1. Joab seun van Seruja het agtergekom dat die koning na Absalom verlang.
2. Toe ontbied hy 'n slim vrou van Tekoa af en sê vir haar: “Jy moet baie hartseer lyk. Trek rouklere aan en moenie skoonheidsmiddels gebruik nie. Gedra jou soos 'n vrou wat al lank rou oor iemand wat dood is.
3. Gaan na die koning toe en praat met hom soos ek vir jou sê.”Hy het haar toe voorgesê wat om te sê.
4. Die vrou van Tekoa het toe 'n onderhoud met die koning gehad. Sy het voor hom op haar knieë geval en gebuig. “Help my tog, U Majesteit,” het sy gesmeek.
5. “Wat makeer?” wou die koning weet.“Ag, ek is 'n arme weduwee; my man is dood,” het sy gesug.
6. “Ek het twee seuns. Die twee het in die veld gebaklei, en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie. Toe slaan die een die ander dood.
7. En om dit nog erger te maak, is die hele familie nou teen my. Hulle eis: ‘Gee die kind wat sy broer doodgeslaan het. Ons wil hom doodmaak omdat hy sy broer doodgeslaan het. Al is hy die enigste erfgenaam, wil ons hom om die lewe bring.’ Hulle wil die enigste hoop wat vir my oor is, uitwis. Hy sal dus nie die familienaam kan voortsit nie, en daar sal niks van my man op die aarde oorbly nie.”
8. “Gaan maar huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal self jou saak behartig.”
9. Maar die vrou sê: “U Majesteit, dit is ek en my gesin wat by hierdie saak betrokke is, nie u en u troon nie.”