11. is die paaslam geslag. Die priesters het die bloed gesprinkel wat vir hulle gegee is, en die Leviete het geslag.
12. Die brandoffers is eenkant gehou om aan die familiegroepe uit die volk te gee sodat hulle dit kon offer aan die Here soos die boek van Moses dit voorskryf. Dit is ook met die beeste gedoen.
13. Die paaslammers is volgens voorskrif oor die vuur gebraai, maar die gewyde offergawes is in potte, kastrolle en skottels gekook en vinnig vir die lede van die volk geneem.
14. Daarna het die Leviete vir hulleself en die priesters vleis gaargemaak, want die priesters uit die nageslag van Aäron was tot die nag toe besig om die brandoffers en die vetgedeeltes as offers te verbrand. Die Leviete moes dus vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters vleis gaarmaak.
15. Die sangers van die Asafgroep was op hulle pos volgens die voorskrif van Dawid, en ook Asaf self, Heman en Jedutun, die siener van die koning. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hy moes wees. Hulle het nie nodig gehad om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg.
16. So het die diens van die Here daardie dag verloop. Die paasfees is gevier en die brandoffers op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het.
17. Die Israeliete wat daar was, het destyds die paasfees gevier en die sewedaagse fees van die ongesuurde brood.
18. Van die tyd van die profeet Samuel af is daar nie so 'n groot paasfees in Israel gevier nie. Nie een van die konings van Israel het so paasfees gevier soos Josia, die priesters en die Leviete, die hele Juda, die Israeliete wat daar was, en die inwoners van Jerusalem dit gevier het nie.
19. Dié paasfees is gevier in die agtiende regeringsjaar van koning Josia.
20. Alles wat Josia aan die tempel laat doen het, was afgehandel. Toe het koning Neko van Egipte opgetrek om in Karkemis, aan die Eufraat, te gaan oorlog maak. Josia het teen hom opgetrek,
21. en Neko het met boodskappers vir hom laat weet: “Ons het niks teen mekaar nie, koning van Juda! My veldtog is dié keer nie teen jou nie, maar teen 'n vyand. God het gesê ek moet gou maak. Moenie in God se pad kom nie. Hy is by my en Hy sal jou vernietig.”
22. Josia het Neko egter nie met rus gelaat nie. Hy het hom vermom met die oog op die geveg en nie geluister na wat Neko op bevel van God self gesê het nie. Hy het vir Neko in die Megiddovlakte gaan aanval.
23. Die boogskutters het koning Josia raakgeskiet, en hy het vir sy lyfwagte gesê: “Bring my uit, ek is swaar gewond.”
24. Hulle het hom van die strydwa afgehaal, hom op 'n ander wa gesit en hom na Jerusalem toe gebring.Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf. Die hele Juda en Jerusalem het oor Josia getreur.
25. Jeremia het 'n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het 'n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.
26. Die ander verhale oor Josia, sy dade van trou in ooreenstemming met wat in die wet van die Here geskryf staan,
27. die verhale van vroeër en dié van later, is opgeteken in Die Boek van die Konings van Israel en Juda.