18. Om die mense van Jerusalem wat op die mure was, bang te maak en hulle die skrik op die lyf te ja sodat die Assiriërs die stad kon inneem, het die boodskappers hard in die Judese taal geroep
19. en oor die God van Jerusalem gepraat soos oor die gode van die volke van ander lande, gode wat die werk van mensehande is.
20. Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het daarom gebid en na die hemel geroep.
21. Toe stuur die Here 'n engel, en dié het elke soldaat en leier en offisier in die kamp van die koning van Assirië doodgemaak. Hy moes beskaamd die aftog blaas terug na sy land toe. Toe hy daar in die tempel van sy god ingaan, het van sy eie seuns hom vermoor.
22. So het die Here vir Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered uit die mag van koning Sanherib van Assirië en uit die mag van almal by hom. Die Here het sy volk aan alle kante beskerm.