2 Kronieke 13:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Ons het die Here self by ons as leier, en sy priesters staan reg om die trompette te blaas dat die stryd teen julle kan begin. Israeliete, moenie teen die Here, die God van julle voorvaders, veg nie. Julle kan nie wen nie!”

13. Jerobeam het van sy manskappe om die linies van Juda gestuur om 'n hinderlaag agter hulle op te stel. Daar was dus 'n hinderlaag agter die Judeërs, en Jerobeam en die ander troepe was voor hulle.

14. Toe die Judeërs omkyk en sien hulle word van voor en van agter bedreig, het hulle na die Here om hulp geroep en het die priesters die trompette geblaas.

15. Die manskappe van Juda het die oorlogskreet aangehef, en God het Jerobeam en die hele Israel 'n neerlaag laat ly teen Abia en Juda.

16. Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee.

17. Abia en sy manne het 'n groot slagting onder hulle aangerig. Vyf honderd duisend van Israel se uitgesoekte manne het gesneuwel.

2 Kronieke 13