20. Toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “Here, maak hierdie mense se oë oop dat hulle kan sien.”Toe die Here hulle oë oopmaak en hulle kyk, toe is hulle binne-in Samaria!
21. Toe die koning van Israel hulle sien, vra hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, Meneer, moet ek hulle doodmaak?”
22. “Nee, moet hulle nie doodmaak nie,” was sy antwoord. “Sou jý mense doodmaak wat jy met jou eie swaard en jou pyl en boog krygsgevange geneem het? Sit vir hulle eet- en drinkgoed voor, dat hulle kan eet voordat hulle teruggaan na hulle koning toe.”
23. Die koning van Israel het vir hulle 'n groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.
24. Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër.
25. Daar het 'n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van 'n donkie naderhand byna 'n kilogram silwer gekos het en 'n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram.
26. Toe die koning van Israel 'n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het 'n vrou uitgeroep: “Help my asseblief, U Majesteit!”
27. Hy het geantwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?”