2 Konings 4:30-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.”Hy het opgestaan en saam met haar gegaan.

31. Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie.

32. Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was.

33. Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het,

34. het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het.

35. Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.

36. Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”

37. Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.

2 Konings 4