23. Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier.
24. Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het.
25. Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie.
26. Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom.
27. Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.”
28. Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.
29. In sy tyd was die farao koning Neko van Egipte op pad na die koning van Assirië toe aan die Eufraat. Koning Josia het teen die farao opgetrek, maar die farao het hom met die bymekaarkom in Megiddo doodgemaak.