8. As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet wat my dienaar Moses vir hulle neergelê het, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.”
9. Maar hulle het nie geluister nie. Manasse het Juda die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.
10. Die Here het deur sy dienaars, die profete, gesê:
11. “Omdat koning Manasse van Juda hierdie afskuwelike dinge gedoen het en erger aangegaan het as al die Amoriete voor sy tyd, en hy ook vir Juda laat sondig het met sy stinkende afgode,
12. daarom, so sê die Here die God van Israel: Ek gaan nou rampe bring oor Jerusalem en Juda wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.
13. Ek gaan Jerusalem met dieselfde maat meet as dié waarmee Ek Samaria en die koningshuis van Agab gemeet het; Ek gaan Jerusalem skoonvee soos 'n mens 'n skottel skoonvee en dan omkeer.
14. Wat oor is van die volk wat aan My behoort, gaan Ek verwerp en hulle oorgee in die mag van hulle vyande. Hulle sal deur al hulle vyande geplunder en uitgeroei word.
15. Dit sal gebeur omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in my oë en My uitgetart het van die dag af dat hulle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe.”