2 Konings 19:10-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie.

11. Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom?

12. Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar?

13. Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14. Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei.

15. Toe het hy tot die Here gebid:“Here, God van Israel,U wat oor die gerubs troon,U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,U het die hemel en die aarde gemaak.

16. Hoor tog, Here, luister,kyk tog, Here, let tog op!“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig!

17. Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes

18. en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig.

19. Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”

20. Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.

21. “Dit is wat die Here oor Sanherib sê:“Sion verag jou en lag jou uit,Jerusalem kyk jou met minagting agterna.

22. Vir wie het jy beledig en belaster?Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?Die Heilige van Israel!

23. Deur jou gesante het jy die Here geminag toe jy gesê het:‘Ek het met my wa teen die hoogste berge op gery,na die toppe van die Libanon toe;ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.Ek het sy verste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.

2 Konings 19