1 Kronieke 28:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. As hy volhou om my gebooie en bepalings na te kom soos nou, sal Ek sy koningskap sy lewe lank bevestig.’

8. “Daarom gebied ek, Dawid, julle nou in teenwoordigheid van die hele Israel, die gemeente van die Here, en ten aanhore van ons God: Onderhou en ondersoek al die gebooie van die Here julle God, dat julle die goeie land kan bly besit en dit as 'n blywende erfenis aan julle kinders na julle kan nalaat.

9. En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met 'n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp.

10. Besef nou dat die Here jou gekies het om 'n gebou as heiligdom op te rig. Pak nou die werk aan en doen dit!”

11. Dawid het sy seun Salomo voorsien van 'n model van die voorportaal met die geboue wat daarby behoort: die voorraadkamers, soldervertrekke, binnevertrekke en die vertrek waarin die versoendeksel sou kom.

12. Dit was 'n model van alles wat hy hom voorgestel het: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom vir die tempelskatte en die wydingsgeskenke,

13. vir die afdelings priesters en Leviete, vir al die werk verbonde aan die diens in die huis van die Here en vir al die gereedskap wat nodig was vir dié diens.

14. Dawid het Salomo ook ingelig oor die presiese hoeveelheid goud wat nodig sou wees vir al die gereedskap vir elke soort diens, die presiese hoeveelheid vir al die silwergereedskap, oor al die gereedskap vir elke besondere werk,

15. oor die presiese hoeveelheid vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, die hoeveelheid wat nodig sou wees vir elke kandelaar met sy lampe, oor die silwerkandelaars, die presiese hoeveelheid vir 'n kandelaar met sy lampe al na gelang die funksie van die kandelaar,

16. oor die hoeveelheid goud vir elkeen van die tafels met die offerbrood, die silwer vir die silwertafels,

17. oor die vurke, komme en kanne van suiwer goud, oor die hoeveelheid vir elke goue beker en elke silwerbeker,

18. oor die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar en oor die vorm van die rytuig, die gerubs van goud wat hulle vlerke moes uitsprei om die verbondsark van die Here te bedek.

19. Dit alles, die hele uitvoering van die werk, het Dawid deur 'n openbaring van God te wete gekom en hy het dit op skrif gestel.

20. Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel.

21. Die afdelings priesters en Leviete is gereed vir die volledige tempeldiens, en daar is vakmanne tot jou beskikking wat bedrewe is in al die soorte werk vir elke diens, terwyl die amptenare en die hele volk op jou bevele wag.”

1 Kronieke 28