1 Kronieke 28:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Dawid het al die gesagsdraers van Israel laat bymekaarkom in Jerusalem: dié wat gesag gehad het oor die stamme, oor die afdelings in diens van die koning, oor duisend, oor honderd, oor al die koninklike besittings en vee, en verder sy seuns saam met die hoofbeamptes, die helde en al die manne van betekenis.

2. Toe het koning Dawid opgestaan en gesê: “My broers, my volk, luister na my! Ek was van gedagte om 'n gebou op te rig as staanplek vir die verbondsark van die Here en as rusplek vir die voete van ons God. Ek het reeds voorbereidings vir die bouwerk getref,

3. maar God het vir my gesê: ‘Jy sal nie vir my Naam 'n huis bou nie, want jy is 'n man van baie oorloë en jy het baie bloed vergiet.’

4. “Die Here die God van Israel het my bo my hele familie verkies om my lewe lank koning oor Israel te wees. Hy het Juda gekies as leidende stam, uit die huis van Juda my familie, en Hy het onder my vader se seuns aan my die voorkeur gegee om oor die hele Israel te regeer.

5. Uit al my seuns, want die Here het my baie seuns gegee, het Hy my seun Salomo gekies om te sit op die troon van waar die Here self oor Israel regeer.

6. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal vir My die tempel met sy voorhowe bou, want Ek het hom vir My as seun gekies, en Ek sal vir hom 'n vader wees.

7. As hy volhou om my gebooie en bepalings na te kom soos nou, sal Ek sy koningskap sy lewe lank bevestig.’

1 Kronieke 28