24. Judeërs, gewapen met grootskild en spies: 6 800, ten volle gewapen;
25. van die Simeoniete, strydbare manne gereed vir aktiewe diens: 7 100;
26. van die Leviete: 4 600;
27. ook nog Jojada, die Aäronitiese vors met 3 700 man by hom,
28. en die jong Sadok, 'n strydbare man, met sy familie onder 22 aanvoerders;
29. van die Benjaminiete, Saul se stamgenote: 3 000. Tot in dié stadium het die meeste van hulle trou gebly aan die huis van Saul.
30. Van die Efraimiete was daar 20 800, almal strydbare manne, gesiene mense in hulle families;
31. van die halwe Manassestam: 18 000 wat afgevaardig was om Dawid te kom koning maak;
32. van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan: 200 van hulle hoofmanne en al hulle stamgenote onder hulle bevel;
33. van Sebulon: 50 000 man wat slaggereed was en met alle wapens toegerus was vir die oorlog. Sonder om twee keer te dink, het hulle saam in 'n geveg ingestorm.
34. Van Naftali was daar 1 000 aanvoerders en saam met hulle 37 000 man met grootskild en spies;
35. van die Danniete: 28 600 gewapende man;
36. van Aser: 40 000 man, slaggereed en gewapen;
37. van oorkant die Jordaan af, van die Rubeniete, Gadiete en die halwe Manassestam: 120 000, toegerus met alle wapens.
38. Al hierdie krygsmanne het saamgestaan en met volle oorgawe na Hebron toe gekom om Dawid koning oor die hele Israel te maak. Die hele res van Israel was dit daarmee eens dat Dawid koning gemaak moes word.
39. Drie dae lank was hulle daar by Dawid en het hulle geëet en gedrink, want hulle volksgenote het hulle onthaal.