29. En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop?
30. En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot?
31. Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here.
32. As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,“laat ons eet en drink, want môre sterf ons!”
33. Moet julle nie langer laat mislei nie:“Slegte geselskap bederf goeie sedes.”
34. Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.
35. Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?
36. Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie.
37. En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders.
38. Maar God gee 'n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy 'n eie gestalte.
39. Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.
40. Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame.
41. Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.
42. So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek;
43. wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek.
44. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar 'n natuurlike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam.
45. So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword.
46. Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike.