13. Daarom moet hy wat ongewone tale of klanke gebruik, bid om die gawe om dit te kan uitlê,
14. want as ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie.
15. Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand.
16. Anders, as jy met die gees 'n dankgebed doen, hoe sal 'n gewone mens wat daar teenwoordig is, op jou dankgebed “Amen” kan sê? Hy verstaan mos nie wat jy sê nie.
17. Jou dankgebed is wel goed, maar ander mense word nie daardeur geestelik opgebou nie.
18. Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal.
19. Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke.
20. Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse.