1 Korintiërs 10:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het.

2. Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop.

3. Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet,

4. en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.

5. Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom.

6. Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie.

7. Julle moenie afgodsdienaars word nie, soos sommige van hulle oor wie daar geskrywe staan: “Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan en hulle aan uitspattighede oorgegee.”

8. Laat ons ook nie onsedelikheid pleeg nie, soos sommige van hulle onsedelikheid gepleeg het, en op een dag het daar drie en twintig duisend omgekom.

9. Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom.

10. En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom.

11. Hierdie dinge het oor hulle gekom as 'n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as 'n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.

1 Korintiërs 10