5. Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie.
6. Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste.
7. Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek.
8. Die draaghoute was so lank dat hulle punte gesien kon word van die voorkant van die binneste heiligdom af, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar.
9. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het.
41-42. “Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid.
43. Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.
44. “Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U, die Here, in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het,
45. luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.
46. “Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee, sodat hulle as gevangenes weggevoer word na die vyand se land toe, ver of naby,
47. en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig,’