1 Konings 7:32-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

32. Die vier wiele was onder die sypanele, en die wiele se asse was aan die waentjie vas. Elke wiel was 'n driekwart meter in deursnee.

33. Die wiele was gemaak soos strydwawiele, hulle asse en vellings en speke en nawe was alles van gietwerk.

34. Die vier staanders aan die vier hoeke van elke waentjie het 'n geheel gevorm met die waentjie.

35. Bo-op elke waentjie was daar 'n ronde staander, 'n kwart meter hoog, met plate aan die kante toegemaak.

36. Hiram het op die plate van die staander en op die sypanele, oral waar daar plek was, gerubs, leeus en palms uitgesny, asook kransies rondom.

37. So het hy die tien waentjies gemaak, gegiet in dieselfde vorm, almal eenders en ewe groot.

38. Hy het tien waskomme van brons gemaak. Elkeen kon ag honderd en tagtig liter hou en was twee meter in deursnee. Daar was 'n waskom vir elkeen van die tien waentjies.

39. Hy het vyf waentjies regs van die tempel gesit en vyf links. Die waterbak het hy regs van die tempel gesit, aan die suidoostekant.

40. Hiram het die waskomme, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die huis van die Here moes doen:

41. die twee pilare met die komvormige skywe, die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is;

42. die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is.

43. Hy het ook die tien waentjies met die tien waskomme daarop gemaak,

44. die waterbak met die twaalf beeste daaronder,

1 Konings 7