25. en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk.
26. Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook.
27. Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak.
28. Salomo het die gerubs met goud oorgetrek.
29. Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke.
30. Hy het ook altwee vertrekke se vloere met goud oorgetrek.
31. Vir die binneste heiligdom het hy 'n dubbeldeur van olyfhout gemaak. Die kosyn het 'n vyfhoek gevorm.
32. Op die twee deure van olyfhout het hy gerubs, palms en blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek. Hy het die goud oor die gerubs en die palms aangebring.
33. Dieselfde het hy gedoen by die ingang van die voorste heiligdom. Die kosyn was ook van olyfhout, maar daar het dit 'n vierhoek gevorm.
34. Die twee dubbeldeure was van sipreshout. Op die twee vleuels van elke deur was sirkels uitgesny.
35. Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele vasgeslaan.
36. Hy het die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederhout.
37. Die fondament van die huis van die Here is gelê in die vierde jaar, in die maand Sif,
38. en die tempel met al sy toebehore en sy hele inrigting is voltooi in die elfde jaar, in die maand Bul, die agste maand. Hulle het sewe jaar aan die tempel gebou.