1 Konings 6:21-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek aan die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die binneste heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het.

22. Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek, en ook die hele altaar by die binneste heiligdom.

23. In die binneste heiligdom het hy twee gerubs van olyfhout aangebring, vyf meter hoog.

24. Elke vlerk van die gerubs was twee en 'n half meter lank. Van punt tot punt was die vlerke van die een gerub dus vyf meter

25. en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk.

26. Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook.

27. Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak.

28. Salomo het die gerubs met goud oorgetrek.

29. Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke.

30. Hy het ook altwee vertrekke se vloere met goud oorgetrek.

31. Vir die binneste heiligdom het hy 'n dubbeldeur van olyfhout gemaak. Die kosyn het 'n vyfhoek gevorm.

32. Op die twee deure van olyfhout het hy gerubs, palms en blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek. Hy het die goud oor die gerubs en die palms aangebring.

33. Dieselfde het hy gedoen by die ingang van die voorste heiligdom. Die kosyn was ook van olyfhout, maar daar het dit 'n vierhoek gevorm.

34. Die twee dubbeldeure was van sipreshout. Op die twee vleuels van elke deur was sirkels uitgesny.

35. Salomo het ook gerubs, palms en blomknoppe op die deure uitgesny en dit met goud oorgetrek. Die goud is in die uitgesnyde dele vasgeslaan.

1 Konings 6