15. het hy die mure van die tempel aan die binnekant met sederplanke bedek; van die vloer af tot teen die dakbalke het hy dit met hout oorgetrek. Die vloer self het hy van sipresplanke gemaak.
16. Hy het agter in die tempel tien meter afgeskort met sederplanke, van die vloer af tot teen die dak, en so aan die binnekant 'n binneste heiligdom ingerig, die Allerheiligste.
17. Die groot vertrek, die voorste heiligdom, was twintig meter lank.
18. Dit was aan die binnekant uitgevoer met sederhout, waarop kalbasse en blomknoppe uitgesny is. Alles was sederhout, daar was nie klip sigbaar nie.
19. Hy het die binneste heiligdom binne in die tempel ingerig om die verbondsark van die Here daar te sit.
20. Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Salomo het dit oorgetrek met geslae goud, en die altaar voor die binneste heiligdom het hy met sederhout oorgetrek.
21. Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek aan die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die binneste heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het.
22. Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek, en ook die hele altaar by die binneste heiligdom.
23. In die binneste heiligdom het hy twee gerubs van olyfhout aangebring, vyf meter hoog.
24. Elke vlerk van die gerubs was twee en 'n half meter lank. Van punt tot punt was die vlerke van die een gerub dus vyf meter
25. en net so ook die ander een s'n. Die twee gerubs was ewe groot en het eenders gelyk.
26. Die een was vyf meter hoog, en die ander een ook.
27. Salomo het die gerubs in die binneste vertrek gesit. Hulle vlerke was uitgestrek; die een se een vlerk het aan die een muur geraak en die ander se een vlerk aan die ander muur. Presies in die middel van die vertrek het hulle ander vlerke aan mekaar geraak.
28. Salomo het die gerubs met goud oorgetrek.
29. Rondom teen al die mure van die tempel het Salomo gerubs, palms en blomknoppe in houtsneewerk aangebring, in die binneste en in die buitenste vertrekke.