29. Toe koning Salomo verneem dat Joab na die heiligdom toe gevlug het en daar by die altaar is, het hy vir Benaja seun van Jojada beveel: “Gaan maak hom dood!”
30. Benaja het na die heiligdom toe gegaan en vir hom gesê: “Die koning sê jy moet uitkom!”Maar hy sê: “Nee, ek wil hiér sterf.”Benaja het toe eers aan die koning gaan rapporteer wat Joab gesê het.
31. Die koning sê toe vir Benaja: “Nes hy wil. Maak hom dood en begrawe hom. So sal jy my en my familie onthef van die blaam vir die moorde wat Joab gepleeg het.
32. Die Here laat hom nou sy verdiende straf kry. Hy het twee manne doodgemaak sonder die medewete van my pa: Abner, seun van Ner en hoof van die leër van Israel, en Amasa, seun van Jitra en hoof van die leër van Juda, albei onskuldiger en beter mense as hy.
33. Laat die skuld vir hulle dood vir altyd op Joab en sy nageslag rus, en mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid en sy nageslag en aan sy hele familie en aan sy troon.”
34. Toe het Benaja seun van Jojada teruggegaan en vir Joab daar aangeval en hom doodgemaak. Hy is begrawe by sy huis in die veld.