6. Hulle het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen in een rigting gegaan, en Obadja alleen in 'n ander rigting.
7. Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!”
8. Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.”
9. Maar Obadja sê: “Watter sonde het ek gedoen dat u my aan Agab uitlewer om my dood te maak?
10. So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê: ‘Elia is nie hier nie,’ het die koning die koninkryk of die nasie met 'n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie.
11. Nou sê u sommer: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’