1 Konings 16:17-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër.

18. Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand. So is hy dood.

19. Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het.

20. Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

21. Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri.

22. Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword.

23. In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa.

1 Konings 16