9. Die toorn van die Here het teen Salomo ontvlam omdat hy nie meer die Here die God van Israel gedien het nie. Tevore het God twee keer aan hom verskyn
10. en hom uitdruklik beveel dat hy nie ander gode mag dien nie. Salomo het hom egter nie gehou aan die opdrag van die Here nie.
11. Daarom het die Here nou vir hom gesê: “Omdat dit so is dat jy jou nie hou aan my verbond en aan die voorskrifte wat Ek jou gegee het nie, sal Ek die koningskap van jou afskeur en vir 'n onderdaan van jou gee.
12. Ter wille van jou vader Dawid sal Ek dit wel nie tydens jou lewe doen nie, maar Ek gaan dit tydens jou seun se lewe doen.
13. Ek sal ook nie die hele koninkryk wegneem nie, maar ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ék uitverkies het, gaan Ek een stam vir jou seun laat oorbly.”
14. Die Here het iemand beskik wat teen Salomo in opstand gekom het. Hy was Hadad die Edomiet uit die koninklike familie van Edom.
15. Toe Dawid vroeër teen Edom geveg het, het Joab, die hoof van die leër, die gesneuweldes gaan begrawe nadat hy al die mans in Edom doodgemaak het.
16. Dit het Joab en die hele Israel ses maande gekos om al die mans in Edom om die lewe te bring.
17. Hadad en 'n aantal Edomitiese mans, almal uit die hofhouding van sy pa, het egter in die rigting van Egipte gevlug. Hadad was toe nog 'n jong seun.
18. Hulle het deur Midian getrek tot in Paran. Van daar af het hulle 'n aantal mans met hulle saamgevat en verder getrek tot hulle in Egipte by die farao, die koning van Egipte, aangekom het. Dié het vir Hadad 'n huis gegee, hom van voedsel voorsien en aan hom 'n stuk grond toegeken.
19. Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes.
20. Sy het vir Hadad 'n seun in die wêreld gebring met die naam Genubat. Tagpenes het die seun in die farao se paleis versorg, waar hy saam met die farao se kinders grootgeword het.
21. Toe Hadad in Egipte verneem dat Dawid te sterwe gekom het en dat Joab, die hoof van die leër, ook dood was, het hy vir die farao gesê: “Laat my toe om na my land toe terug te gaan.”
22. Die farao sê toe vir hom: “Kom jy iets kort hier by my dat jy nou skielik na jou land toe wil teruggaan?”“Nee,” sê hy, “maar laat my asseblief maar gaan.”
23. God het nog iemand teen Salomo in opstand laat kom: Reson seun van Eljada, 'n onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba wat vir die koning gevlug het.