13. Ek sal ook nie die hele koninkryk wegneem nie, maar ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ék uitverkies het, gaan Ek een stam vir jou seun laat oorbly.”
14. Die Here het iemand beskik wat teen Salomo in opstand gekom het. Hy was Hadad die Edomiet uit die koninklike familie van Edom.
15. Toe Dawid vroeër teen Edom geveg het, het Joab, die hoof van die leër, die gesneuweldes gaan begrawe nadat hy al die mans in Edom doodgemaak het.
16. Dit het Joab en die hele Israel ses maande gekos om al die mans in Edom om die lewe te bring.
17. Hadad en 'n aantal Edomitiese mans, almal uit die hofhouding van sy pa, het egter in die rigting van Egipte gevlug. Hadad was toe nog 'n jong seun.
18. Hulle het deur Midian getrek tot in Paran. Van daar af het hulle 'n aantal mans met hulle saamgevat en verder getrek tot hulle in Egipte by die farao, die koning van Egipte, aangekom het. Dié het vir Hadad 'n huis gegee, hom van voedsel voorsien en aan hom 'n stuk grond toegeken.
19. Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy hom laat trou het met sy skoonsuster, die suster van koningin Tagpenes.
20. Sy het vir Hadad 'n seun in die wêreld gebring met die naam Genubat. Tagpenes het die seun in die farao se paleis versorg, waar hy saam met die farao se kinders grootgeword het.