1 Konings 1:29-45 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. Toe lê die koning 'n eed af en sê: “So seker as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het:

30. soos ek vir jou met 'n eed voor die Here die God van Israel bevestig het dat jou seun Salomo ná my koning sal word, en dat hy in my plek op die troon sal sit, so doen ek dit nou weer.”

31. Batseba het voor die koning gekniel en gebuig en sy het gesê: “Mag koning Dawid baie lank lewe.”

32. Toe gee koning Dawid opdrag: “Gaan roep vir my die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada.”Toe hulle by die koning kom,

33. sê hy vir hulle: “Vat my lyfwagte saam met julle en laat my seun Salomo op my eie muil ry. Vat vir Salomo na die Gihonfontein toe

34. en laat die priester Sadok en die profeet Natan hom daar tot koning oor Israel salf. Dan moet julle die ramshoring blaas en roep: ‘Lank lewe koning Salomo!’

35. Julle moet agter hom aangaan, en hy moet binnegaan en op my troon gaan sit, want dit is hy wat my as koning opvolg. Ek gee opdrag dat hý heerser moet wees van Israel en Juda.”

36. Benaja seun van Jojada sê toe: “So is dit, en mag die Here u God ook so sê.

37. Mag Hy by Salomo wees soos Hy by u was. Mag Hy die heerskappy van Salomo nog groter maak as koning Dawid s'n.”

38. Die priester Sadok, die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die koninklike lyfwag het toe so gemaak. Hulle het Salomo op koning Dawid se muil laat ry en hom by Gihonfontein gebring.

39. Die priester Sadok het 'n horing vol olie uit die heiligdom saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en die mense roep: “Lank lewe koning Salomo!”

40. Hulle gaan toe almal agter hom aan terwyl hulle op fluite blaas en juig dat die aarde daarvan dreun.

41. Adonia en sy gaste was net klaar met eet toe hulle dit hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat is die stad so rumoerig?”

42. Hy het nog gepraat toe Jonatan seun van die priester Abjatar daar aankom. Adonia sê toe vir hom: “Kom nader. Jy is mos 'n wakker man. Jy bring seker goeie nuus.”

43. Jonatan het vir Adonia geantwoord: “Inteendeel! Koning Dawid het vir Salomo koning gemaak!

44. Die koning het die priester Sadok, die profeet Natan, Benaja seun van Jojada, en die koninklike lyfwag saam met hom gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry,

45. en die priester Sadok en die profeet Natan het hom by Gihonfontein tot koning gesalf. Daarvandaan het hulle met 'n gejuig teruggegaan. Dit is die rumoer wat julle in die stad gehoor het.

1 Konings 1