2. Sy amptenare sê toe vir hom: “Laat hulle vir U Majesteit 'n jongmeisie soek wat u kan bedien en oppas. Sy kan by u slaap, sodat u weer warm kan word.”
3. Nadat hulle deur die hele gebied van Israel gaan soek het na 'n mooi meisie, het hulle vir Abisag, 'n meisie uit Sunem, gekry en haar na die koning toe gebring.
4. Hierdie meisie was baie mooi en sy het die koning opgepas en versorg, maar die koning het nooit geslagsgemeenskap met haar gehad nie.
5. Intussen het Adonia, seun van Dawid en sy vrou Gaggit, ewe hoogmoedig by homself gedink: ek gaan binnekort koning wees.Hy skaf toe vir hom 'n strydwa met ruiters aan, en vyftig man om voor hom uit te hardloop.
6. Sy vader het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra: “Hoekom maak jy so?” nie. Adonia, die jonger broer van Absalom, was 'n baie mooi man.
7. Hy het met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar onderhandel, en hulle het hom ondersteun.
8. Maar die priester Sadok, Benaja seun van Jojada, die profeet Natan, Simeï, Reï en Dawid se lyfwagte was nie aan Adonia se kant nie.
9. Adonia het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag by Sogeletrots langs Rogelfontein en toe al die koning se seuns, sy broers, daarheen genooi, en ook al die manne van Juda wat in die koning se diens was.
10. Maar hy het die profeet Natan, Benaja, die lyfwagte en sy broer Salomo nie genooi nie.
11. Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het jy gehoor Adonia seun van Gaggit het koning geword, en koning Dawid weet daar niks van nie!