Spreuke 21:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.

2. Elke weg van ’n mens is reg in sy oë, maar die Here toets die harte.

3. Om geregtigheid en reg te doen, is vir die Here verkiesliker as offers.

4. Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde.

5. Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.

6. Die verwerwing van skatte deur ’n valse tong is ’n verwaaide asem — dodelike valstrikke.

7. Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen.

8. Gekronkeld is die weg van ’n skuldige mens; maar die reine — sy handeling is reg.

9. Dit is beter om op die hoek van ’n dak te woon as by ’n twisgierige vrou en ’n gemeenskaplike huis.

10. Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie.

11. As ’n mens ’n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as ’n mens ’n wyse onderrig, neem hy self kennis aan.

12. Die regverdige let op die huis van die goddelose; Hy stort die goddelose in die ongeluk.

13. Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.

14. ’n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en ’n geskenk in die skoot die heftige woede.

15. Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar ’n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.

Spreuke 21