Spreuke 15:10-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. ’n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.

11. Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die Here, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!

12. Die spotter hou nie daarvan dat ’n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie.

13. ’n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig.

14. Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om.

15. Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.

16. Liewer ’n bietjie in die vrees van die Here, as ’n groot skat en onrus daarby.

17. Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby.

18. ’n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.

19. Die weg van die luiaard is soos ’n heining van dorings, maar die pad van die opregtes is reggemaak.

Spreuke 15