Spreuke 10:13-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar die roede is vir die rug van die verstandelose.

14. Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is ’n ondergang wat naby is.

15. Die goed van die ryke is vir hom ’n sterk stad; die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede.

16. Wat die regverdige verwerf, is vir die lewe; die inkomste van die goddelose is tot sonde.

17. ’n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregwysing veronagsaam, raak verdwaald.

18. Hy wat haat verberg, het valse lippe; en hy wat skindertaal uitstrooi, is ’n dwaas.

19. By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.

20. Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer; die hart van die goddelose is min werd.

21. Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand.

22. Die seën van die Here — dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.

23. Dit is ’n vermaak vir ’n dwaas om ’n skandelike daad te doen, net so is wysheid vir ’n man van verstand.

24. Waar die goddelose bang voor is — dit kom oor hom; maar die begeerte van die regverdiges vervul Hy.

25. Wanneer ’n stormwind verbygaan, is die goddelose nie meer nie; maar die regverdige is vir ewig gegrondves.

26. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur.

27. Die vrees van die Here vermeerder die dae, maar die jare van die goddelose word verkort.

28. Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan.

Spreuke 10