1. EK vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ’n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.
2. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? — hoe hy by God optree teen Israel en sê:
3. Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe!
4. Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie.
5. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ’n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.
6. En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.