Rigters 9:47-57 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

47. En toe dit aan Abiméleg meegedeel is dat al die burgers van die toring van Sigem bymekaargekom het,

48. klim Abiméleg, hy en al die manskappe wat by hom was, op die berg Salmon; en Abiméleg het byle met hom saamgeneem en ’n boomtak afgekap en opgetel en dit op sy skouer gesit en aan die manskappe wat by hom was, gesê: Wat julle my sien doen, doen dit my gou na.

49. Daarop kap al die manskappe ook elkeen sy tak af en hulle volg Abiméleg en gooi dit op die kelder en steek die kelder bo-op hulle aan die brand, sodat ook al die mense van die Sigemstoring, omtrent duisend manne en vroue, gesterf het.

50. Daarna het Abiméleg na Tebes getrek en Tebes beleër en dit ingeneem.

51. Maar in die middel van die stad was ’n sterk toring; en daarheen het al die manne en vroue en al die burgers van die stad gevlug, en hulle het agter hulle toegesluit en bo-op die dak van die toring geklim.

52. En Abiméleg het gekom tot by die toring en daarteen geveg; maar toe hy nader kom tot by die ingang van die toring om dit met vuur te verbrand,

53. gooi ’n vrou die boonste meulsteen op die hoof van Abiméleg en verbrysel sy skedel.

54. Toe roep hy gou die dienaar, sy wapendraer, en sê vir hom: Trek jou swaard uit en maak my van kant, dat hulle nie van my kan sê: ’n Vrou het hom gedood nie. Daarop het sy dienaar hom deurboor, en hy het gesterwe.

55. En toe die manne van Israel sien dat Abiméleg dood was, het hulle elkeen na sy woonplek gegaan.

56. So het God dan die kwaad van Abiméleg vergelde wat hy sy vader aangedoen het deur sy sewentig broers te vermoor.

57. En al die kwaad van die manne van Sigem het God op hulle eie hoof laat neerkom; en die vloek van Jotam, die seun van Jerúbbaäl, het oor hulle gekom.

Rigters 9