16. As julle dan nou in waarheid en in opregtheid gehandel het deur Abiméleg koning te maak, en as julle goed gedoen het aan Jerúbbaäl en sy huis, en as julle aan hom gedoen het na die verdienste van sy hande —
17. julle vir wie my vader geveg en sy lewe gewaag het, en wat hy uit die hand van die Midianiete gered het,
18. maar wat vandag opgestaan het teen die huis van my vader, en sy seuns, sewentig man, op een klip vermoor het en Abiméleg, die seun van sy slavin, koning gemaak het oor die burgers van Sigem omdat hy julle broer is —
19. as julle dan vandag in waarheid en in opregtheid gehandel het met Jerúbbaäl en sy huis, wees dan vrolik oor Abiméleg, en mag hy ook vrolik wees oor julle.
20. Maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit Abiméleg en die burgers van Sigem en die huis Millo verteer; en laat daar vuur uitgaan uit die burgers van Sigem en uit die huis Millo en Abiméleg verteer.
21. Daarop het Jotam padgegee en weggevlug en na Beër gegaan en daar gebly vanweë Abiméleg, sy broer.
22. Toe Abiméleg drie jaar oor Israel geheers het,
23. het God ’n bose gees gestuur tussen Abiméleg en die burgers van Sigem, en die burgers van Sigem het troueloos gehandel teen Abiméleg,
24. sodat die onreg teen die sewentig seuns van Jerúbbaäl sou uitkom, en Hy hulle bloed sou lê op hul broer Abiméleg wat hulle vermoor het, ook op die burgers van Sigem wat sy hande versterk het om sy broers te vermoor.
25. So het die burgers van Sigem dan teen hom hinderlae opgestel bo-op die berge en almal beroof wat op die pad by hulle verbykom. En dit is aan Abiméleg meegedeel.
26. Toe kom Gaäl, die seun van Ebed, met sy broers en hulle trek oor na Sigem toe; en die burgers van Sigem het op hom vertrou.
27. En hulle het uitgegaan in die veld en hulle wingerde afgeoes en uitgetrap en oesfees gehou; daarop het hulle in die huis van hulle god ingegaan en geëet en gedrink en Abiméleg gevloek.
28. Toe sê Gaäl, die seun van Ebed: Wie is Abiméleg — en wat is Sigem — dat ons hom sou dien? Is hy nie die seun van Jerúbbaäl, en is Sebul nie sy stadsbestuurder nie? Dien die manne van Hemor, die vader van Sigem, maar waarom moet óns hom dien?
29. Ag, was hierdie volk maar in my hand, dan sou ek Abiméleg wegjaag! En met die oog op Abiméleg het hy gesê: Vermeerder maar jou leër en trek uit!
30. Toe Sebul, die owerste van die stad, die woorde van Gaäl, die seun van Ebed, hoor, het hy kwaad geword