7. dan sal Ek Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte na jou, na die spruit Kison trek, en Ek sal hom in jou hand gee.
8. Maar Barak sê vir haar: As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie.
9. Toe sê sy: Ek sal sekerlik met jou saamtrek, maar die eer sal nie joue wees op die pad wat jy sal gaan nie; want die Here sal Sísera in die hand van ’n vrou verkoop; en Debóra het opgestaan en saam met Barak na Kedes getrek.
10. Daarop het Barak Sébulon en Náftali bymekaargeroep na Kedes toe, en tienduisend man het op sy voetspore opgetrek, en Debóra het saam met hom opgetrek.
11. En Heber, die Keniet, het hom afgeskei van Kain, van die kinders van Hobab, die swaer van Moses, en het sy tente opgeslaan tot by die terpentynboom by Saänáim, naby Kedes.