8. Toe sê hulle: Wie is diegene wat van die stamme van Israel nie opgegaan het na die Here in Mispa nie? En kyk, niemand het uit Jabes in Gílead na die laer, na die vergadering gekom nie.
9. En die volk is getel, en daar was niemand van die inwoners van Jabes in Gílead nie.
10. Toe stuur die vergadering daarheen twaalfduisend man uit die dapper manne en gee hulle bevel en sê: Gaan heen en slaan die inwoners van Jabes in Gílead met die skerpte van die swaard, ook die vroue en die kinders.
11. En dit is die ding wat julle moet doen: Alles wat manlik is, en al die vroue wat die gemeenskap met die man ken, moet julle met die banvloek tref.
12. En hulle het onder die inwoners van Jabes in Gílead vierhonderd meisies aangetref, jongmeisies wat geen gemeenskap met ’n man gehad het nie, en dié het hulle na die laer gebring in Silo wat in die land Kanaän lê.
13. Toe stuur die hele vergadering en hulle spreek met die kinders van Benjamin wat by die rots Rimmon was, en bied hulle die vrede aan.