7. Hier is julle, kinders van Israel, nou almal: gee julle hier woord en raad!
8. Toe staan die hele volk op soos een man en sê: Geeneen van ons sal na sy tent toe gaan en geeneen van ons wegdraai na sy huis toe nie;
9. maar dit is nou die ding wat ons Gíbea sal aandoen: Op teen hom volgens die lot!
10. Ons sal naamlik tien man neem uit elke honderd van al die stamme van Israel, en honderd uit duisend, en duisend uit tienduisend, om padkos vir die manskappe te gaan haal, om as hulle gekom het, met Gíbea-Benjamin te handel volgens die skanddaad wat hy in Israel begaan het.
11. Toe versamel al die manne van Israel by die stad, soos een man saamverbonde.
12. En die stamme van Israel stuur manne deur die hele stam van Benjamin om te sê: Wat vir ’n misdaad is dit wat onder julle gepleeg is?
13. Lewer dan nou die slegte manne uit wat in Gíbea is, dat ons hulle om die lewe kan bring en die kwaad uit Israel kan uitroei. Die Benjaminiete wou egter nie na hulle broers, die kinders van Israel, luister nie;
14. maar die kinders van Benjamin het bymekaargekom uit die stede na Gíbea toe, om na die oorlog uit te trek teen die kinders van Israel.
15. En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is: sewehonderd uitgesoekte manne.
16. Uit al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met ’n klip op ’n haar geslinger sonder om te mis.
17. En die manne van Israel, behalwe Benjamin, is getel: vierhonderdduisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was krygsmanne.
18. En hulle het klaargemaak en opgetrek na Bet-el en God geraadpleeg; en die kinders van Israel het gesê: Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die kinders van Benjamin? Toe sê die Here: Juda eerste.
19. Daarop het die kinders van Israel die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen Gíbea.
20. En die manne van Israel het uitgetrek om te veg teen Benjamin, en die manne van Israel het hulleself in slagorde teen hulle opgestel, na Gíbea toe.
21. Toe trek die kinders van Benjamin uit Gíbea uit, en hulle het op dié dag in Israel twee-en-twintigduisend man teen die grond vernietig.