11. En toe hulle by Jebus kom en die son al baie gesak het, sê die dienaar aan sy heer: Kom tog, laat ons uitdraai na hierdie stad van die Jebusiete en daarin vernag.
12. Maar sy heer sê aan hom: Ons kan nie uitdraai na ’n vreemde stad waar nie van die kinders van Israel is nie, maar ons moet verbytrek tot by Gíbea.
13. Verder sê hy aan sy dienaar: Trek, laat ons nader kom by een van die plekke en in Gíbea of Rama vernag.
14. So het hulle dan verder verbygetrek; en die son het vir hulle ondergegaan by Gíbea wat aan Benjamin behoort.
15. Toe draai hulle daar uit om in Gíbea te gaan vernag. En hy het ingekom en gebly op die plein van die stad, want daar was niemand wat hulle in sy huis opgeneem het om te vernag nie.
16. Maar kyk, in die aand kom daar ’n ou man uit die veld van sy werk af, en die man was van die gebergte van Efraim afkomstig en het in Gíbea as vreemdeling vertoef; maar die manne van die plek was Benjaminiete.