Rigters 18:17-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. het die vyf man wat gegaan het om die land te verken, opgegaan, daar ingekom, die gesnede beeld en die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem, terwyl die priester by die ingang van die poort bly staan saam met die seshonderd man met wapens omgord.

18. Toe daardie manne dan die huis van Miga ingegaan en die gesnede beeld, die skouerkleed en die huisgode en die gegote beeld geneem het, vra die priester vir hulle: Wat maak julle?

19. En hulle sê vir hom: Bly stil, sit jou hand op jou mond en gaan saam met ons, en wees vir ons ’n vader en ’n priester: is dit beter vir jou om priester te wees vir die huis van een man of om priester te wees vir ’n stam en ’n geslag in Israel?

20. Toe word die priester se hart vrolik, en hy neem die skouerkleed en die huisgode en die gesnede beeld en gaan tussen die manskappe in.

21. En hulle het weggedraai en voortgetrek, met die kinders en die vee en die waardevolle goed op hulle voorpunt.

22. Nadat hulle ’n hele ent weg was van Miga se huis af, is die manne van die huise wat by Miga se huis staan, bymekaargeroep, en hulle het die kinders van Dan agtervolg

23. en na die kinders van Dan geroep. Toe draai dié hulle gesigte om en vra vir Miga: Wat is dit met jou dat julle bymekaargeroep is?

24. En hy sê: My gode wat ek gemaak het, het julle weggeneem saam met die priester, en julle trek weg; wat het ek nou oor? En hoe kan julle dan vir my sê: Wat is dit met jou?

25. Maar die kinders van Dan sê vir hom: Moenie jou stem by ons laat hoor nie, sodat nie miskien manne met ’n bitter gemoed op julle aanval en jy jou eie lewe en die lewe van jou huis verloor nie.

26. Daarop gaan die kinders van Dan hulle koers, terwyl Miga, toe hy sien dat hulle sterker was as hy, omdraai en na sy huis teruggaan.

Rigters 18