Psalms 92:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n PSALM. ’n Lied vir die sabbatdag.

2. Dit is goed om die Here te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,

3. om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;

4. by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.

5. Want U het my bly gemaak, Here, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.

6. Hoe groot is u werke, o Here; baie diep is u gedagtes!

7. ’n Dom mens weet nie, en ’n dwaas verstaan dit nie:

8. as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.

9. Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, Here!

10. Want kyk, u vyande, o Here, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word.

11. Maar U verhoog my horing soos van ’n buffel; ek is met vars olie gesalf.

12. En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan.

Psalms 92