33. So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking.
34. Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek;
35. en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.
36. En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg;
37. maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.
38. Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie.
39. En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ’n wind wat weggaan en nie terugkom nie.
40. Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis;
41. en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk.
42. Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie;
43. toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan.
44. En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie.
45. Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het.
46. En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan.