8. o God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela,
9. het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!
10. Met ’n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het Ú dit versterk.
11. U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God!
12. Die Here het die woord laat hoor — die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ’n groot skare:
13. Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit.
14. As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.
15. Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon.
16. ’n Berg van God is die berg Basan, ’n berg met toppe is die berg Basan.
17. Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die Here sal daar woon tot in ewigheid.
18. Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid.
19. U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o Here God!
20. Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.
21. God is vir ons ’n God van verlossinge, en die Here Here het uitkomste teen die dood.
22. Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.