Psalms 66:6-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom.

7. Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.

8. Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem —

9. wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.

10. Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ’n mens silwer louter.

11. U het ons in die net gebring, ’n swaar las op ons heupe gelê.

12. U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.

13. Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,

14. wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.

15. Brandoffers van vet diere sal ek U bring saam met offerrook van ramme; ek sal beeste saam met bokke berei. Sela.

16. Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het.

Psalms 66