Psalms 56:7-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Hulle val aan, lê en loer — hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het.

8. Ondanks hul ongeregtigheid — sal hulle ontvlug? Werp volke neer in toorn, o God!

9. Ú het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?

10. Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.

11. Deur God sal ek die woord prys; deur die Here sal ek die woord prys.

12. Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ’n mens my doen?

13. Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal;

14. want U het my siel gered van die dood — ja, my voete van struikeling — om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.

Psalms 56