Psalms 109:13-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Laat sy nakomelinge uitgeroei word; laat hulle naam uitgedelg word in die volgende geslag.

14. Laat die Here gedagtig wees aan die ongeregtigheid van sy vaders, en laat die sonde van sy moeder nie uitgedelg word nie.

15. Laat dié altyddeur voor die Here wees, dat Hy hulle gedagtenis van die aarde af kan uitroei;

16. omdat hy nie daaraan gedink het om guns te bewys nie, maar die ellendige en behoeftige man vervolg het en die moedelose van hart, om hom dood te maak.

17. Ja, hy het die vloek liefgehad en — dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en — dit het ver van hom af gebly.

18. Hy het die vloek aangetrek soos ’n kleed en — dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.

19. Laat dit vir hom wees soos ’n kleed waarin hy hom toedraai, en ’n gordel wat hy altyddeur ombind.

20. Laat dit die loon van my teëstanders wees vanweë die Here, en van hulle wat kwaad spreek teen my.

21. Maar U, o Here Here, maak dit goed met my om u Naam ontwil; omdat u goedertierenheid goed is, red my.

22. Want ek is ellendig en behoeftig, en my hart is deurwond in my binneste.

23. Ek gaan heen soos ’n skaduwee as dit lank word; ek is afgeskud soos ’n sprinkaan.

24. My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet.

25. En ék het vir hulle ’n smaad geword; as hulle my sien, skud hulle hul hoof.

26. Help my, Here my God! Verlos my na u goedertierenheid,

27. sodat hulle kan weet dat dit u hand is: U, o Here, het dit gedoen.

28. Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly.

29. Laat my teëstanders beklee word met smaad en hulle toedraai in hul skande soos in ’n mantel.

30. Ek sal die Here hardop loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys;

Psalms 109