Psalms 10:6-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Hy sê in sy hart: Ek sal nie wankel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie in die ongeluk sal wees nie.

7. Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg.

8. Hy sit in die hinderlae by die dorpe; in skuilplekke maak hy die onskuldige dood; sy oë loer op die ongelukkige.

9. Hy loer in die skuilhoek soos ’n leeu in sy lêplek; hy loer om die ellendige te vang; hy vang die ellendige deur sy net toe te trek;

10. en verbryseld sink dié terneer, en die ongelukkiges val in sy mag.

11. Hy sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.

12. Staan op, Here! o God, hef u hand op; vergeet die ellendiges nie!

13. Die goddelose, waarom verag hy God en sê in sy hart: U soek dit nie?

14. U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat ’n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was ’n helper van die wees.

15. Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!

16. Die Here is Koning vir ewig en altyd; die heidene het vergaan uit sy land.

17. Here, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk, u oor sal luister

18. om aan die wees en verdrukte reg te doen. Geen mens uit die aarde sal langer voortgaan om skrik aan te jaag nie.

Psalms 10