Númeri 7:4-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

5. Neem dit van hulle aan, dat dit kan gebruik word om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig; en jy moet dit aan die Leviete gee, aan elkeen volgens sy dienswerk.

6. Toe het Moses die waens en die beeste geneem en dit aan die Leviete gegee:

7. twee waens en vier beeste het hy aan die seuns van Gerson gegee volgens hulle dienswerk;

8. en vier waens en agt beeste het hy aan die seuns van Merári gegee volgens hulle dienswerk, onder leiding van Ítamar, die seun van die priester Aäron.

9. Maar aan die seuns van Kehat het hy niks gegee nie; want die diens van die heiligdom het op hulle gerus: hulle moes dit op die skouers dra.

10. En die owerstes het die inwydingsgawe van die altaar gebring op die dag toe dit gesalf is, en die owerstes het hulle offer voor die altaar gebring.

11. En die Here het aan Moses gesê: Elke owerste moet, elkeen op ’n afsonderlike dag, sy offer bring vir die inwyding van die altaar.

12. En hy wat op die eerste dag sy offer gebring het, was Nagson, die seun van Ammínadab, van die stam van Juda.

13. En sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;

14. een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;

15. een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;

16. een bokram as sondoffer;

17. en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Nagson, die seun van Ammínadab.

18. Op die tweede dag het Netáneël, die seun van Suar, die owerste van Íssaskar, aangebring —

19. hy het sy offer gebring: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;

Númeri 7