Númeri 6:4-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Al die dae van sy nasireërskap mag hy niks eet van alles wat van die wynstok gemaak is nie, selfs nie van die pitte en doppe nie.

5. Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan die Here toewy, moet hy heilig wees — hy moet die hare van sy hoof vry laat groei.

6. Al die dae dat hy hom aan die Here gewy het, mag hy nie by ’n dooie kom nie.

7. Aan sy vader of sy moeder, aan sy broer of sy suster — aan hulle mag hy hom nie verontreinig as hulle dood is nie; want die wyding van sy God is op sy hoof.

8. Al die dae van sy nasireërskap is hy heilig aan die Here.

9. En as heeltemal onverwags iemand by hom sterwe, sodat hy sy gewyde hoof verontreinig, moet hy op die dag van sy reiniging sy hoof skeer; op die sewende dag moet hy dit skeer.

10. En op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester, na die ingang van die tent van samekoms, bring.

11. En die priester moet een as sondoffer en een as brandoffer berei en vir hom versoening doen vir wat hy uit oorsaak van die dooie gesondig het; so moet hy dan sy hoof op dieselfde dag heilig.

12. Daarna moet hy die dae van sy nasireërskap aan die Here wy en ’n jaaroud lam as skuldoffer bring; en die vorige dae moet wegval, omdat sy nasireërskap verontreinig is.

13. En dit is die wet van die nasireër: Op die dag as die dae van sy nasireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die tent van samekoms bring;

14. en hy moet sy offer aan die Here bring: een jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer en een jaaroud ooilam sonder gebrek as sondoffer en een ram sonder gebrek as dankoffer

15. en ’n mandjie ongesuurde koeke van fynmeel, koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk, en die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort.

Númeri 6