Númeri 3:2-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En dit is die name van die seuns van Aäron: die eersgeborene Nadab, daarna Abíhu, Eleásar en Ítamar.

3. Dit is die name van die seuns van Aäron, die gesalfde priesters, wat hy aangestel het om die priesteramp te bedien.

4. Maar Nadab en Abíhu het gesterwe voor die aangesig van die Here toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van die Here in die woestyn Sinai gebring het, en hulle het geen kinders gehad nie; maar Eleásar en Ítamar het die priesteramp bedien voor die oë van hulle vader Aäron.

5. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

6. Laat die stam van Levi nader kom, en stel hulle voor die priester Aäron, dat hulle hom kan dien.

7. En hulle moet sy diens waarneem en die diens van die hele vergadering voor die tent van samekoms, om die dienswerk van die tabernakel te verrig.

8. En hulle moet sorg vir al die gereedskap van die tent van samekoms en vir die diens van die kinders van Israel, om die dienswerk van die tabernakel te verrig.

9. En jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee; hulle is heeltemal aan hom gegee uit die kinders van Israel.

10. Maar Aäron en sy seuns moet jy aanstel, dat hulle hul priesteramp kan waarneem; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.

11. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

12. Kyk, Ek self het die Leviete geneem onder die kinders van Israel uit in die plek van al die eersgeborenes wat die moederskoot open, uit die kinders van Israel, dat die Leviete myne kan wees.

13. Want al die eersgeborenes is myne: op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is die Here.

14. En die Here het met Moses gespreek in die woestyn Sinai en gesê:

15. Tel die seuns van Levi volgens hulle families, volgens hulle geslagte; almal wat manlik is, van ’n maand oud en daarbo — dié moet jy tel.

16. En Moses het hulle volgens die bevel van die Here getel soos dit hom beveel is.

17. En dit was die seuns van Levi volgens hulle name: Gerson en Kehat en Merári.

18. En dit is die name van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte: Libni en Símeï.

19. En die seuns van Kehat volgens hulle geslagte: Amram en Jishar, Hebron en Ússiël.

Númeri 3