12. Kyk, Ek self het die Leviete geneem onder die kinders van Israel uit in die plek van al die eersgeborenes wat die moederskoot open, uit die kinders van Israel, dat die Leviete myne kan wees.
13. Want al die eersgeborenes is myne: op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is die Here.
14. En die Here het met Moses gespreek in die woestyn Sinai en gesê:
15. Tel die seuns van Levi volgens hulle families, volgens hulle geslagte; almal wat manlik is, van ’n maand oud en daarbo — dié moet jy tel.
16. En Moses het hulle volgens die bevel van die Here getel soos dit hom beveel is.
17. En dit was die seuns van Levi volgens hulle name: Gerson en Kehat en Merári.
18. En dit is die name van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte: Libni en Símeï.
19. En die seuns van Kehat volgens hulle geslagte: Amram en Jishar, Hebron en Ússiël.
20. En die seuns van Merári volgens hulle geslagte: Magli en Musi. Dit is die geslagte van die Leviete volgens hulle families.
21. Aan Gerson behoort die geslag van die Libniete en die geslag van die Simeïete. Dit is die geslagte van die Gersoniete.
22. Hulle geteldes volgens die getal van almal wat manlik was, van ’n maand oud en daarbo — húlle geteldes was seweduisend-vyfhonderd.
23. Die geslagte van die Gersoniete moet laer opslaan agter die tabernakel aan die westekant.
24. En owerste oor die familie van die Gersoniete moet Éljasaf, die seun van Lael, wees.
25. En die seuns van Gerson moet by die tent van samekoms versorg: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms;
26. en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en sy lyne — alles wat by sy bediening behoort.
27. En aan Kehat het behoort die geslag van die Amramiete en die geslag van die Jishariete en die geslag van die Hebroniete en die geslag van die Ussiëliete. Dit is die geslagte van die Kehatiete.