Númeri 27:7-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ’n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan.

8. En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan.

9. En as hy geen dogter het nie, moet julle sy erfdeel aan sy broers gee.

10. En as hy geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan die broers van sy vader gee.

11. En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy bloedverwant gee wat naaste aan hom is uit sy geslag, en dié moet dit in besit neem. En dit moet vir die kinders van Israel ’n regsinsetting wees, soos die Here Moses beveel het.

12. DAARNA het die Here aan Moses gesê: Klim op hierdie gebergte Abárim, en bekyk die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het.

13. En as jy dit gesien het, sal jy ook by jou volksgenote versamel word soos jou broer Aäron versamel is;

14. omdat julle in die woestyn Sin, toe die vergadering getwis het, teen my bevel wederstrewig gewees het om My by die water voor hulle oë te heilig. Dit is die water van Mériba by Kades, in die woestyn Sin.

15. Toe het Moses met die Here gespreek en gesê:

16. Laat die Here, die God van die geeste van alle vlees, ’n man oor die vergadering aanstel

17. wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die Here nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.

Númeri 27